Ons vir jou: over zelfbeschikkingsrecht en Orania

Voortrekkersmonument

Voortrekkersmonument

Onze medewerker in Zuid-Afrika, Peter Murray, had ons verzocht dit verslag op Golfbrekers te plaatsen; tijdens de afwezigheid van de webbeheerder is dit in zijn pc blijven steken.  Vandaar vandaag pas, met enige vertraging,  de publicatie ervan.

 Verslag oor die samesprekings tussen die Boere-Afrikanervolksraad en die SA Menseregtekommissie op 13 Mei 2013

 Die Volksraad het gister ‘n gesprek gevoer met die SA Menseregtekommissie na aanleiding van die klag wat die Volksraad op 3 Desember by die Kommissie teen die SA Regering gelê het weens laasgenoemde se versuim om uitvoering te gee aan sy konstitusionele en volkeregtelike verpligtinge met betrekking tot selfbeskikking van volkere, en spesifiek die Boere-Afrikanervolk.

Die gesprek was teleurstellend. Die Hoof Bedryfsbeampte (Chief Operations Officer) met wie die gesprek aangevra is, het nie opgedaag nie en ook geen verskoning is vir haar gemaak nie (nie dat haar teenwoordigheid enige verskil sou gemaak het nie). Van  haar mindere beamptes en die deeltydse kommissaris wat die klag beoordeel, dr. Danny Titus*, het die Kommissie verteenwoordig. Die Voorsitster was me. Chantal Kisoon, die Provinsiale Bestuurder vir Gauteng.
Ter aanvang het die Voorsitter van die Volksraad die vergadering meegedeel dat dit óns mense se gebruik is om vergaderings met gebed te open, en het hy ons Ondervoorsitter, Abel Malan gevra om die gebed te doen. Die Kommissielede het dit oënskynlik vreemd gevind, dog die nodige respek getoon, terwyl die Kommissaris sigbaar geïrriteer voorgekom het.

Daarna het die Voorsitter van die Volksraad die redes verstrek vir die versoek tot gesprek en daartoe oorgegaan om ‘n kort beskrywing te gee oor die ontstaan en doel van die Volksraad, pogings om met die Regering te skakel, die redes vir die klag en die uitkoms wat die Volksraad verlang.

Vervolgens het hy aan die hand van die kommunikasie wat met die Kommissie gevoer is sedert die klag aanhangig gemaak is, aangetoon hoe navrae met onwaarhede oor die stand van die ondersoek beantwoord is. Hy wou voorts weet hoekom dit die Kommissie 5 maande neem om te bepaal of hulle jurisdiksie het om die klag te hanteer, terwyl die betrokke verdrae deur die VN as menseregteverdrae geklassifiseer is en die S.A. Regering by ondertekening daarvan die Internasionale Menseregtekomitee aanvaar het as beslegter van klagtes oor die uitvoering daarvan.

Kisoon het ontken dat daar voete gesleep word met die klag, en haar Kommissie se proses om klagtes te hanteer, verduidelik. Die ongewone aard van die klag en die implikasies wat dit vir die land kan inhou, dra glo by tot die tydsduur wat vereis word om ‘n besluit oor hul jurisdiksie te neem. Die wanvoorstellings oor die vordering is eenvoudig afgemaak en weggepraat.

Daarna het die Kommissaris wat die ondersoek uitvoer, Danny Titus, die woord geneem. Ofskoon hy toegegee het dat volke se reg op selfbeskikking in die Volkereg erken word, en dat die regime gebind is tot onderhouding van die internasionale ooreenkomste wat hy onderteken het, het Titus se  vooroordeel en vyandigheid uit die staanspoor geblyk toe hy, soos ons verwag het, die hele aangeleentheid oor die boeg van rassisme en ‘n terugkeer na “apartheid” probeer gooi het — ‘n tema wat hy herhaaldelik gedurende die gesprek na vore gehaal het. Die Voorsitter van die Volksraad het daarop aan hom ‘n omvattende navorsingstuk oor die erkenning van volke se reg op selfbeskikking in die Volkereg, oorhandig, wat deur ‘n medewerkende prokureur nagevors en opgestel is.

Voorts het hy die Volksraad se aanspraak op verteenwoordiging betwis weens die feit dat daar nie méér geregistreerde kiesers op die VVK se kieserslys geregistreer is nie. Hy wou weet hoeveel Swartes en Kleurlinge aan die verkiesing deelgeneem het, waarop die Volksraad hom daarop gewys het dat dit ‘n volksverkiesing was vir lede van óns volk wat die verklaring op die registrasievorm kon en wou onderskryf. Hy het trouens beweer dat die aantal vryheidsgesinde Afrikaners daal en ‘n stelling wat in The Economist gemaak word, as bron vir die bewering aangehaal. Die Voorsitter van die Volksraad het voorgestel dat as ‘n billike bepaling van die aantal volksgenote wat vryheid begeer, verlang word, die Kommissie by die Regering moet aanbeveel dat ‘n landwye meningsopname in die vorm van ‘n referendum, wat uit die Staatskas (d.w.s met ons belasting)  befonds word, onder Afrikaners gehou moet word.

Die ander vraag (wat ook te wagte was), was wáár die Volksraad ‘n eie gebied vir selfbeskikking in die oog het. Die Kommissie is daarop gewys dat die Volksraad in sy skrywes en vryheidseis vermy het om grense te trek, aangesien dit nou om die erkenning van die beginsel gaan. Daarna moet oorgegaan word tot die bepaling van die praktiese aspekte. Sou die selfbeskikkingsbeginsel aanvaar word, kan aan bestaande volksnedersettings soos Orania en Kleinfontein reeds ‘n hoë mate van selfbeskikking toegeken word, en voorsiening gemaak word vir die geografiese uitbreiding daarvan, terwyl volwaardige eie departemente vir terreine soos byvoorbeeld onderwys daargestel kan word. Sodoende kan selfbeskikking ‘n evolusionêre proses wees wat kan uitbrei totdat die eindideaal, te wete geografiese onafhanklikheid, bereik word.

Titus het beweer dat die beginsel van selfbeskikking reeds in artikel 235 van die Grondwet erken word. Die Volksraad se antwoord was dat dit sonder praktiese uitvoering ‘n dooie letter is. Ons dring aan op praktiese uitvoering daarvan.

Die vraag is gevra waarom ‘n regime wat die Afrikaner sigbaar haat, ons volk steeds onder sy gesag wil hou en nie bereid is om uitvoering te gee aan ons aanspraak op selfbeskikking nie. Ons afleiding is dat hulle ons slegs beskou as ‘n belastingbron wat getap kan word.

Vele ander vrae is gevra en argumente gevoer, waaruit die Kommissaris se kwade gesindheid, onbegrip en selfs moedswilligheid duidelik geblyk het. Daaraan geoordeel, is die Kommissie se bevinding en finale antwoord voorspelbaar. Hy erken enersyds dat die bevolking van Suid-Afrika uit verskillende volke (peoples) bestaan, nogtans gaan dit vir hulle om slegs één ding, naamlik die gelykskakeling en eendersheid van alle mense in Suid-Afrika kragtens die Grondwet. Voor die oppergesag van die mensgemaakte Grondwet — waaraan ons geen deel gehad het nie — moet die harde feite van ons eie volkskap, geskiedenis en identiteit wyk. Volgens Titus sal die Kommissie dieselfde standpunte voor die Internasionale Menseregtekomitee stel, sou die Volksraad hom tot dié liggaam wend.

Die gesprek en die benadering van die Kommissaris het opnuut die onbeskryflike yslikheid van De Klerk en sy meelopers se verraad teen ons volk onderstreep, waardeur ons in ‘n posisie geplaas is dat mense wat self geen volksidentiteit, volksgeskiedenis en volkstrewe het en daarom niks daarvan verstaan nie, oor die Boere-Afrikanervolk en ons nasionale aspirasies uitspraak kan lewer. Dit oortref die gekombineerde verraad van al die  joiners in die Tweede Vryheidsoorlog omdat die gevolge daarvan vir ons volksbestaan soveel groter is.

Die Volksraad sal voortgaan om die opdrag wat hy met sy verkiesing gekry het, onverbiddelik uit te voer en roep volksgenote op om laer te trek ter beskerming van ons volkskap en om ons strydvaardig te maak teen die aanslae wat daarteen gerig word.

Andries Breytenbach
Voorsitter

14 Mei 2013

* Danny Titus is ook die Uitvoerende Direkteur: Kultuur van die ATKV!  Behoede ons kultuur!

2 thoughts on “Ons vir jou: over zelfbeschikkingsrecht en Orania

  1. Die Afrikanervolk (of Boerevolk) se strewe om onafhanklikheid strek al oor ‘n tydperk van meer as 300 jaar.
    Toe Kaapland sowat 220 jaar gelede ‘n kolonie van Groot Brittanje geword het, was dit vir die Vryburgers in Kaapstad duidelik dat hul begeertes – om ‘n vrye, onafhanklike republiek te stig – nie bewaarheid sal word nie.
    Die VOC het, deels omdat daar ‘n ernstige tekort aan arbeiders was om die nedersetting te ontwikkel, mense uit alle uithoeke na die Kaap laat kom. Daar was slawe uit die Ooste (Maleisië, Indonesië, Madagaskar, Indië, Angola, ens.); daar was Franse Hugenote; daar was Duitsers; daar was Nederlanders (van die arbeiderklasse tot die hoogste amptenare). Die multiculti-atmosfeer was teen die jaar 1790 alreeds onhoudbaar vir die konserwatiewe gedeelte van die bevolking, maar toe Engeland die oorlog in Europa gewen het, moes Nederland haar eiendom in Suid-Afrika aan die Engelse oorhandig.
    Teen 1750 het die bevolking aan die Kaap uit 4 511 burgers; 5 327 slawe; en 349 vrye slawe bestaan. Die plaaslike bevolking (Xhoi-Xhoi) is nie getel nie. In 1798 was dit: 20 000 burgers (wat uit Duitsers, Franse en Nederlanders bestaan het); 25 754 slawe; en 1 700 swartes (vrye slawe). In 1820 het Brittanje honderde Britse Setlaars na die Kaap gestuur, wat hulle hoofsaaklik in die Oos-Kaap gevestig het. Die sensusopname wat toe geneem is, het die volgende getoon: 42 975 Burgers; 31 779 voltydse slawe; 1 932 vrye slawe; en 25 975 Xhoi-Xhoi (Hottentotten).
    Die nuwe wette in die Kaap wat deur Brittanje op sy “onderdane” probeer afdwing het, was vir die Vryburgers totaal onaanvaarbaar. Buitendien kon hulle (die burgers) hulle nie met die veelrassige samelewing vereenselwig nie. Die spreekwoordelike “Laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het,” was toe Brittanje slawerny eensydig afgeskaf het. Die Burgers was nie in beginsel daarteen gekant nie, maar aangesien die meeste boere van slawe-arbeid afhanklik was, en omdat Brittanje geweier het om die boere, wat slawe verloor het, te vergoed, het hulle besluit om te trek.
    Die sogenaamde “voortrek” het in 1834 begin. Die tweede onafhanklike republiek is op Graaff-Reinet in die Oos-Kaap gestig, maar ook hierdie poging van die boere was vrugteloos, omdat Brittanje dit nietig verklaar het.
    Die Vryburgers se naam het mettertyd na Voortrekkers verander, en toe die twee Boererepublieke in Vrystaat en Transvaal gestig is, is die Voortrekkers (wat feitlik almal landbouers was) lede van die “Boerevolk” genoem.
    In 1898, nadat ryk neerslae van goud in Transvaal ontdek is, en diamante in die Vrystaat ontdek is, het Groot Brittanje oorlog teen die Boere verklaar.
    Dit was dus ‘n teken dat Brittanje nie sou rus alvorens hy die Boerevolk uitgeroei het nie. Die eerste apartheidswet vir Suid-Afrika is sowat 120 jaar gelede in Londen deur die Britte gemaak. Toe Dr Hendrik Frensch Verwoerd in 1902 in Amsterdam gebore is, was daar reeds 10 apartheidswette gemaak, maar die vyande van die Afrikaner, en van Dr Verwoerd, vind dit goed om gereeld (tot vandag toe) na Dr Verwoerd te verwys as “die vader en argitek van apartheid.”
    Die Britte is dus die grootste struikelblok in die weg van VRYHEID vir die Afrikaner/Boerevolk.
    Oor die jare (en eeue) heen, is die Boerevolk gereeld deur die Britse pers verdag gemaak, met modder gesleep, en is daar selfs pogings aangewend om ons volk uit te wis. Swartes is al sedert 1830 teen die Boere aangehits. Dit het al hoe veller geword. Toe Nelson Mandela in 1963 in hegtenis geneem is, was die haat deur die Britte teenoor die Afrikaners reeds ernstig, maar dit het steeds toegeneem, totdat Mandela in 1994 die eerste “demokratiese” verkiesing gewen het.
    Noudat Suid-Afrika besig is om in ‘n 2de Zimbabwe te verander, is die Britte tjoep stil! Margaret Thatcher het voorspel dat die land in chaos gedonpel sou word indien die ANC beheer sou oorneem, maar sy het ook nie juis ‘n poging aangewend om Dr Verwoerd se beleid te verdedig en te beskerm nie.
    Dit gaan ALLES oor GELD!!! Die Britte haat die Afrikaner, omdat die Afrikaner nie VRYWILLIG sy wettige eiendom aan die gierige, imperialistiese Engelse wou oorhandig, en soos slawe voor die Britse troon wou buig nie.
    Die BOERE-AFRIKANERVOLK buig voor niemand nie, en aanbid ook nie ‘n aarde koning nie. Hulle aanbid slegs GOD-Drie-Eenig!

    Kaapland het in 1796 Britse gebied geword, en die Britte het hul linkse stempel duidelik op die immigrante in Kaapland afgedruk. Die onmin tussen Brit en Vryburger het by die dag gegroei. Die Vryburgers was ‘n “VOLK IN WORDING”. Die Britte was gewoont daaraan om sy “onderdane” tot onderhorigheid te dwing, terwyl die Vryburgers nie daarvoor te vinde was nie. Hul afsydigheid het die Britte woedend gemaak, en die Vryburgers is van misdadigheid beskuldig. Klein groepies Vryburgers het die Skiereiland (Kaapstad en onmiddellike omgewing) verlaat. Sommiges het noordwaarts (in die rigting van Saldandabaai en die Sandveld) getrek; ander het ooswaarts getrek.
    Die eerste republiek is op Swellendam gestig, maar is spoedig deur Engeland tot niet verklaar.

  2. Op 31 Mei 1961, vandag 52 jaar gelede, het Dr H F Verwoerd Suid-Afrika ‘n republiek verklaar. Ongelukkig was dit nie ‘n BOERE-REPUBLIEK (of AFRIKANER-REPUBLIEK) nie, maar ‘n republiek vir “almal wat in Suid-Afrika woon.” In 1992 het mnr F W de Klerk die Afrikaner se gedeelte van die republiek, aan die Marxistiese ANC op ‘n skinkbord oorhandig, en het ons ons land vir ewig verloor.
    Die Afrikaner/Boer het een van drie keuses om te maak: 1. Sit agteroor, doen niks, en word deur die Marxistiese swartes uitgeroei; 2. Vlug na ‘n oorsese bestemming, integreer met die plaaslike bevolking, en verdwyn as ‘n onafhanklike Afrikanervolk; 3. Trek na die westelike gedeelte van Suid-Afrika en probeer om weer ‘n republiek te stig.

Reacties zijn gesloten.