Ons vir jou: zijn de dagen van de blanken in Z-A geteld?

Voortrekkersmonument

Voortrekkersmonument

Laaste loopgraaf?

Die vraag wat deesdae op menige blanke Suid-Afrikaner se lippe kom, is: “Is die dae van blankes in Afrika getel?”

Hoe lank nog, sal die Westerse beskawing in Afrika die aanslae téén hom kan weerstaan?  Lê ons nou in die spreekwoordelike “laaste loopgraaf?”

Mnr Dick Davel van Hopetown skryf hierdie week aan die nuwe Afrikaanstalige radio “Radio Afrikaans” oor die haglike toestande onder Afrikaners in Suid-Afrika, en die koue skouer wat linkses (binnelands en buitelands) vir hul eie volksgenote en stamgenote gee.

“Goeienaand liewe volksgenote en ander luisteraars van Radio Afrikaans!”, begin mnr Davel sy gesprek.

“Elke liewe dag aanskou ons die versnellende agteruitgang van dit wat ons volk die afgelope 360 jaar opgebou het (en nou probeer om instand te hou).  Net gister was daar weer ‘n grusame moord op ‘n lid van Ventersdorp se boeregemeenskap; die media berig dat die elektrisiteit-voorsiener, Eskom, op die kruin van ineenstorting is; daar is waterprobleme in feitlik elke Vrystaatse dorp (klein en groot); ons volksgenote verlaat hul geboorteland teen meer as 2 000 per maand; ons bevolkingsaanwas is negatief (met ander woorde, minder as 2 kinders per vrou); en werkloosheid neem daagliks toe.

“Die owerhede se amptelike syfer oor werkloosheid onder blankes is 10%, maar volgens die opnames van ‘n paar Afrikaanse kerke, leef een miljoen van genoemde kerke se lidmate onder die broodlyn, en sowat 600 000 woon in wit plakkerskampe.

“Die meeste werkloses registreer nie meer as werkloos nie, want hulle sien geen nut daarin om te registreer nie.  Weens die ANC-regering se onmenslike beleid van “regstellende optredes“, het dit vir sekere blankes onmoontlik geword om enigsins die moeite te doen om werk te soek, en maak dit dat registrasie oorbodig is.  ‘As jou vel wit is, is daar vir jou geen werk nie, waarom dan nog enige moeite van enige aard doen?’

“Vir baie werkloses is dit in-elk-geval te duur en te moeilik om by registrasiekantore uit te kom.  Sommige werkloses is so arm, dat hulle nie eers taxi-geld of bus-geld besit nie.

“Gesien in die lig dat daar in 1990 sowat 6,5-miljoen blankes in Suid-Afrika gewoon het (die meeste ooit!), en dat meer as 1-miljoen sederdien die land verlaat het, is daardie 1-miljoen mense wat onder die broodlyn leef, darem ‘n bietjie meer as die owerhede se beweerde 10%.  Dit klink meer na 30%, en nie na 10% nie.

“Die instroming van vreemdelinge – wettig en onwettig – is ‘n verdere spyker in die doodskis van die Afrikaner.  Volgens die amptelike statistieke woon daar alreeds sowat 400 000 Chinese in die land, wat sedert 1994 ons land binnegestroom het; sowat 100 000 Pakistanies; 40 000 Bangladesjers; en 4-miljoen swartes uit ander dele van Afrika, wat wettiglik in Suid-Afrika woon, en wat sedert 1994 na ons land verhuis het.  Dan is daar ook miljoene ander swartes wat onwettig oor die land se grense geglip het.

“Liewe volksgenote, daar is duisende Afrikaners wat so naïef is, hulle dink ons moet maar net geduldig wees, agteroor sit, en alles sal regkom.  Die harde werklikheid is, niks sal vanself regkom nie!  Afrikaners sal alles in hul vermoëns moet doen om slegs maar ‘n klein gedeelte van die ou Suid-Afrika te red.  Doen hulle niks, verloor hulle alles!

“Volksvriende,” het mnr Davel voortgegaan, “daar is net een haalbare pad na volksvryheid, en dit is om etnies te konsolideer!  Nie om na die buiteland vir vryheid en vir veiligheid te vlug nie, maar om u volksgenote in Suid-Afrika, wat in nood verkeer, te help!”

Hy het voorts na die Argentynse Afrikaners (die Ghautjos) verwys en gesê:”Wat het van die 100 Boere-gesinne geword wat tussen 1912 en 1917 na Patagonië gevlug het om daar ‘n Boere-nedersetting te begin?  Vandag is daar nog net ‘n handvol Spanjaarde en Suid-Amerikaners oor met Afrikaner-agtername.  Die laaste oorlewende vlugteling is onlangs oorlede.  Hul kinders en kleinkinders praat geen Afrikaans meer nie, en ‘n mens wonder hoeveel ken nog die Afrikaner se volks- geskiedenis.  In-elk-geval is daar niemand meer wat nog aan ‘n protestantse kerk – die kerk van hul voorvaders – behoort nie.  Vir alle praktiese doeleindes het die Argentynse Afrikaner reeds uitgesterf, en dit is ‘n bewys dat emigrasie so goed soos selfmoord – of volksmoord – is.  Bly liewer in Suid-Afrika en help u vriende in nood!” Wyle dr D F Malan, voormalige Eerste Minister van Suid-Afrika, het uitgeroep:”Bring bymekaar, diegene wat bymekaar hoort!”  Daardie woorde was nog nooit so gepas as juis nou nie.  Ons volk (wat maar net uit 3-miljoen mense bestaan) is wyd en yl oor die hele land van meer as 1 219 000 vk/km verspreid, en ons mense word soos vlieë afgemaai.  “Ons woon té ver uitmekaar, ons moet nader na mekaar beweeg, ons moet mekaar beskerm, ons moet ‘n verenigde front teen ons vyande vorm, sodat hulle ons nie verder kan uitmoor nie!  Daar sal nie vir julle hulp uit Europa kom nie, julle is op julself aangewese.  As daar wel hulp was, sou ons dit al geweet het, maar ons familie en vriende in Europa stel nie in 3-miljoen Afrikaners belang nie.”

“Konsolidasie Selfwerksaamheid en Selfbeskikking, moet die Afrikaner se motto wees, daarsonder het ons geen toekoms nie.

“Orania is die embrio van die konsep van Selfbeskking.  Al is dit net ‘n klein nedersetting (daar woon tans sowat 1 200 Afrikaners) waar die Afrikaner-Boerevolk gefokus en gekonsentreer is, kan ons – as ons na die gebied tussen Orania (aan die Oranjerivier) en Vredendal (aan die Weskus) verhuis – ons soevereiniteit in Selfwerksaamheid, en in die opbou van ‘n eie Volksekonomie, verwerf.

DGHT (De Goede Hoop Trust) is ‘n volkstrust wat gestig is om die geografiese gebied wes van die Oranjerivier as ‘n volkseie gebied te omskep.  Dit strek van Doringbaai en Vredendal in die weste, tot by Hopetown en Orania in die ooste.  Dit is ‘n afstand van ongeveer 600km.  Die breedte van die gebied sal deur die volk se ekonomie, en deur sy fisiese besetting van daardie gebied, bepaal word.

“DGHT se missie en visie is om ‘n vryheidsgebied vir die Afrikaner-Boerevolk voor te berei, waarin hernieude volksplanting moontlik sal wees, en waar die volk – op eie bodem – ‘n nuwe, eie, vrye, republiek kan stig.  Daar waar ons weer vry kan wees; ons eie Godsdiens vryelik kan beoefen; ons eie vlag kan hys; ons eie volkslied kan sing; en ons eie kultuur in stand kan hou.

“In ‘n eie gebied sal ons nie van volksvreemde arbeid gebruik maak nie, maar ons sal daarop aandring dat volksgenote ALLE werk SELF sal doen.  Wanneer jou werk vir jou te veel of te moeilik is, neem dan mede-Afrikaners in diens, sodat jou werk deur volkseie arbeid verrig kan word, want vreemdvolkiges sal so vinnig aanteel, dat hulle oor 50 of oor 100 jaar so talryk sal wees, dat hulle weer jou land in ‘n one-man-one-vote verkiesing van jou sal wegneem.

“Liewe volksgenote, as u onseker is, skryf asseblief aan ons, en moenie daar by u huis sit en vir u dood bekommer oor die land se probleme nie.

Vir meer inligting, besoek ons webwerf: http://www.degoedehooptrust.org of skryf aan: De Goede Hoop Trust, Posbus 385, Hopetown, 8750, Suid-Afrika.  Of, skryf aan my, Dick Davel, by afrdick@gmail.com .  Ons het ook pas ‘n nuwe selnommer by gekry: 072-406-2202.”

Peter Murray